Dagstukkie

Gevul met die Heilige Gees

As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”

LUKAS 11:13 AFR83

Ons moet almal voortdurend met die Heilige Gees vervul word. As gelowiges in Jesus het ons die Heilige Gees, maar dalk het ons onsself nie heeltemal aan Hom oorgegee vir Sy gebruik nie. Dit was vir baie jare die geval met my totdat ek 'n krisispunt in my lewe bereik het waar ek nie meer bereid was om dag na dag voort te hink sonder 'n werklike oorwinning nie.

Ek het God gevra om "iets" te doen, en ek was oop vir wat ook al Sy plan was! Ek het nie eers geweet wat ek nodig het nie, maar God het. Hy is altyd getrou om ons te ontmoet waar ons is en ons te help om te kom waar ons moet wees.

Ek moes vervul word met God se Gees, en deur Sy genade en barmhartigheid was ek. Ek vra God steeds gereeld om my opnuut te vul met Sy teenwoordigheid en krag en my in staat te stel om alles te wees wat Hy wil hê ek moet wees. Ons het die krag van die Heilige Gees nodig om God se wil te doen. Moet nooit op jouself staatmaak nie, want sonder Hom kan jy niks doen nie (Joh. 15:5).

Vra daagliks vir die volheid van God se Gees en jy sal nabyheid met God ervaar wat wonderlik is. Wanneer die Heilige Gees oor jou kom, dan ontvang jy krag om Sy getuie te wees. Jy sal op wonderlike maniere verander as jy God se krag vertrou om jou in staat te stel en te versterk.

Here, vul my daagliks met U Heilige Gees – met U teenwoordigheid en krag – dat ek alles kan doen en alles kan wees wat U wil hê ek moet wees, amen.